Rugby
Op sportgebied vaar Gekombineerde Skool Christiana deur die jare baie goed.
Ons Hoërskool-rugbyspanne het al ‘n paar keer die Beeldtrofee vir kleinskole gewen of gereeld in die kwarteindrondtes, finale of semi-finale gespeel.
Verskeie van ons spelers verteenwoordig ook jaarliks van die verskillende Luiperdrugbyspanne. Een van ons leerlinge, CJ van Heerden, het in 2014 die VKB span in Engeland verteenwoordig.
Ons Laerskoolspanne staan ook glad nie in die skadu van die Hoërskool nie.
Ons spanne het al verskeie kere as streekwenners, plattelandwenners of Luiperdwenners uit die stryd getree. Hulle vaar ook baie goed by die Bondedae waar hulle ook al as wenner uit die stryd getree het. In 2014 wen ons die Plattelandliga en twee van ons spelers word gekies om die Luiperdspan by die Cravenweek te verteenwoordig.
Netbal:
Op netbalgebied is ons skool ook ‘n baie gedugte opponent. Twee van ons Laerskool en een Hoërskoolspan het in 2014 as wenners uit die stryd getree. In 2014 verteenwoordig drie van ons leerlinge verskillende ouderdomsgroepe by die SA-netbalweek in Margate.
Atletiek:
Op atletiekgebied vaar ons skool deur die jare baie goed en jaarliks verteenwoordig van ons atlete die skool by die provinsiale byeenkomste en by die SA-kampioenskappe. Ons skool ontvang ook vir 2014 van die Onderwys- departement ‘n toekenning as die beste atletiekskool in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati Distrik.
Hokkie
In 2014 het ons vir die eerste keer begin hokkie speel by die skool. Die belangstelling was baie goed en ons hoop dat ons in 2015 van krag tot krag sal gaan.
Swem
Ons skool is een van baie min skole wat nog oor ‘n swembad beskik. Swem is baie aktief en verskeie van ons kinders neem gereeld aan gala’s deel.
Tennis
Gedurende 2014 het tennis by ons skool weer vlam gevat. Verskeie leerders ontvang afrigting by buite-afrigters. Daar is ‘n rondomtalie gespeel om wenners te bepaal vir verskillende afdelings en daar is vriendskaplike wedstryde teen Bloemhof gespeel. Ons beoog om vanjaar daarop uit te bou.
Krieket
Ons het hoërskool - sowel as laerskoolspanne wat jaarliks baie goed doen in hulle onderskeie ligas. In 2014 is twee seuns ingesluit in die Westelikes-krieketspan.
Buitesportsoorte:
Verskeie leerlinge neem verder aan buiteskoolse sportsoorte deel waar hulle ook baie goed doen. Daar word deelgeneem aan sportsoorte soos : Tweekamp, karate, motorfietswedrenne, gimnastiek ens.