2019 - Entrepreneursdag !!!


Jaarliks heers daar groot opwinding in Graad 7, wanneer dit tyd is om hulle
sakevernuf ten toon te stel.  Onder die leiding van Juffrou Karlien Lombaard
moes leerlinge hulle eie begrotings opstel en natuurlik hul wins bepaal.  Die 
week vooraf is plakkate gemaak en opgesit om voornemende kopers te in-
spireer om sakke vol geld saam te bring.  Baie geluk Gr.7’s  -  dit was ‘n
suksesvolle dag !


 


 2019 - Gr.8 Kimberleyuitstappie
’n Klompie leerlinge net voor ons vertrek na Kimberley.  

Ons kon darem ’n idee kry van hoe diamante lyk, hoewel dit  alles nagemaak is.

Ons het meer te wete gekom oor die “Grootgat"

Mens kan byna nie jou oë glo as mens dit van bo-af bekyk nie.


Op die model hieronder kan gesien word hoe daar gemyn is en hoe dat
die water begin uitsyfer het.  Daar is toe besluit om tussen die twee lae
water afwaarts te myn

Natuurlik moes ons ook die Trem ry !

Almal van ons dink dat dit ’n baie leersame dag was.

Oral op die terrein het hulle die winkeltjies behoue laat bly soos dit in daardie dae gelyk het.

Daar was selfs vervoermiddels uit daardie era.


Baie dankie aan die onderwysers wat dit vir ons moontlik gemaak het om ’n besoek aan die “Die groot
gat” te bring.  Meneer Hardus Coetzer wat die bus bestuur het,  Juffrou Anya Maree en Juffrou Anna-
Carien Kruger wat ons vergesel het.
Dankie ook aan Marlize Britz en Karliena Janse van Rensburg (hieronder) wat 
foto’s geneem het om die ervaring met almal te deel.


   2019 - KUNS GR.4
Juffrou Willie Marais het die Gr.4-leerlinge gevra om ’n gelukkige dieregesin voor te stel deur van 
kleimodelle gebruik te maak.  Was dit nie ’n hele dieretuin in die kleine nie ! Daar was slange, muise, 
ystervarke, honde, katte … Noem maar op - die hele ark was omtrent teenwoordig.   


 


 2019 - REKENINGKUNDE
Dis die klas om by te woon as jy wil weet of jou besigheid ’n sukses gaan wees of nie !  Dis kasboeke,
joernale, grootboeke … maar die belangrikste is, alles moet klop.  Tydens eksamen voel dit mos altyd
jy het nie genoeg tyd nie, niks klop nie !  Meneer Ronnie Brewis verduidelik hier wat die goeie beginsels
is vir ’n suksesvolle besigheid en wat die slaggate is waarvoor jy op die uitkyk moet wees.


 


   2019 - REKORDEKSAMEN


In Januarie het dit sekerlik vir elke matriekleerling gevoel asof die einde van die jaar nog ver in die
toekoms lê …  Hier sit ons (Gr.12’s) die begin van die rekordeksamen - Stelwerk !  Almal is die ene
konsentrasie en wil graag goed voel na die eerste vraestelle.  Mev. Lois Olevano hou net so ’n ogie en
skep ’n gevoel van kalmte in ’n borskas wat voel of dit wil ontplof !!!


Net voor ons ingestap het, was die wyse woorde op ’n bord reg langs die eksamenlokaal …  Sterkte aan
elke leerling wat nou gereedmaak om een van hulle belangrikste eksamen  af te lê.
 

 


 2019 TEGNOLOGIE


Ons Graad 9-groep moes ’n probleem oplos:  Ontwerp en maak ’n toestel vir ’n dowe
   persoon wat in ’n eenslaapkamer woonstel woon.  Die toestel moet die funksie van
    ’n deurklokkie oorneem en die persoon dus waarsku wanneer daar gaste by die voor-
   deur is.
 


Anders as gewoonlik speel klank hier glad nie ’n rol nie - ’n dowe persoon is visueel ingestel. 
Die opdrag het beslis vir baie pret en opwinding gesorg.  Juffrou Maryke Durow het
elkeen se model sorgvuldig deurgegaan en ons wag inspanning om te sien hoe ons gevaar het.
 

 


2019 - VERBRUIKERSTUDIE


Dankie tog vir Juffrou Lisa !  ’n Vaardigheid wat besig is om uit te sterf word aan ons leerders
oorgedra.  Wanneer laas het jy tuisgemaakte konfyt en blatjang geëet ?  
Hier staan ’n groepie BAIE trotse leerlinge met hulle eie handewerk !
 


GRAAD 3 - KIMBERLEY UITSTAPPIE
Uiteindelik het die grootdag aangebreek - ons uitstappie na Kimberley !!!  Vroeg reeds is ons per bus na
Kimberley.  ’n Gids het saam met ons beweeg en ons baie interessante feite vertel en dinge gewys wat
vroeër jare gebruik is tydens die diamantbedryf in ons omgewing.
 


Waaroor alles gaan - die “Groot Gat”.  Moed moes eers bymekaar geskraap word om af te kyk.  Hoekom 
voel dit of die water mens wil intrek ?  
 


Gelukkig maal Mamma se woorde deur my kop:  “Boeta, hou
net vas en moenie die reëling los nie !”  Ek het nie !
 

Ons kon natuurlik nie wag om op die “Trem” te ry nie !  Baie soet het ons gesit en wag ..

Dit was ’n belewenis om in die Trem te ry terwyl die verkeer om ons is.  
Dit is seker hoe die “Koninklikes”voel wanneer hulle met ’ n koets / 
ampmotors in die strate ry.  
 

By die mynskag het ons gids vertel dat wanneer jy een van die groterige klippe skud en jy hoor “iets”
binne, dit heel moontlik ’n DIAMANT is !  Onnodig om te sê - elke klip is daarna geskud !
Mnr. Bester,ons busbestuurder, juffrou Alta en Rina, baie dankie vir die geleentheid wat ons gehad het
om Kimberley te besoek en meer te leer oor die diamantbedryf, nou en in die begin jare.
 

KUNS GR.3
In die kunsklas van Juffrou Rina moes die leerders “iets skep” uit afvalprodukte.
Was die klomp nie kreatief nie !  Kyk self na die kleurvolle blikkies, kartonnetjies
en botteltjies.  Jy kan op die gesiggies sien die projek was lekker !
 


   2019 - AFRIKAANS  HUISTAAL 
Andre Stolz Produksies besoek ons skool jaarliks met die voorgeskrewe werk wat daardie jaar met die matriek
leerlinge behandel word.  Vanjaar was dit weer die geval met die stuk “Onderwereld”. Die akteurs is deur 
Mev. Lois Olevano genooi om ons leerlinge, en die omliggende skole, te kom vergas met hulle puik spel.  
Verlede jaar het die produksiespan van Onderwereld, die "Naledi Teatertoekenning” vir die “Beste Produksie 
in Jeugteater” ontvang. 
 


Terugvoering van een van ons eie leerders - “ Nadat ons die roman in die klas behandel het en die 
geselskap dit vir ons op die planke gebring het, val die hele letterkunige werk soos ’n legkaart inmekaar."


Baie dankie Juffrou Lois dat juffrou soveel insit en ons so goed voorberei vir ons finale eksamen.  Hoop
nie ons stel Juffrou teleur nie !
 


2019 - REKENAARTOEPASSINGSTEGNOLOGIE
Seker een van die gewildste klasse in die skool.  Hoekom ?  
Wie wil nou agterbly met die nuutste tegnologie !!!  Mev. Dalene
Nieuwoudt, een van ons meer senior onderwysers, is die bewys
dat - waar ’n wil is, is daar ’n weg !  
In die klas weet jy presies wat van jou verwag word - die reels op
die deur verwelkom jou ...
 


’n Verrassing wag vir die wat dink dit is “games” wat gespeel word !  O nee, jy word geleer om 
opdragte / inligting netjies uiteen te sit d.m.v. tabelle en kolomme.  Jy skep jou eie databasis en 
ontwerp jou eie webblad.  Hier word jy geleer om deeglik en netjies te werk.  Of jy nou eendag 
jou eie besigheid het, of jy vir iemand gaan werk, ’n  huisvrou is of ’n  entrepreneur is - 
rekenaartoepassingstegnologie is ’n moet !  
 

 

Graad 1-Opedag
Vanjaar is die voornemende graad 1’s van 2020 in die skool se Lapa ontvang.  Hier het hulle kennis
gemaak met die nuwe Juffrouens - Juffrou Elize Jordaan en Juffrou Annelene Badenhorst.  Die 
skoolhoof meneer Paul Bester is aan die nuwelinge se ouers voorgestel, waarna hulle meer oor
die skool ingelig is.  Die tema van die dag was oral sigbaar !  Dit was net visse en ander  seediere,
maar die “duikboot” het beslis aandag getrek !  Daar was selfs seekatte - vriendelike seekatte EN
haaie.  Die kleinspan is  bederf met iets vir die magies waarna hulle speletjies gespeel het op die
sportveld. Maats ons kan nie wag om julle deel van ons “skoolvisse” te maak nie !!!
 

LEWENSWETENSKAP -2019


In Lewenswetenskap leer en beleef ons dinge wat sommiges van ons dalk nooit ooit weer sal beleef nie.
Verbeel jou, regte longe … !   Eers wou niemand dit van naby bekyk nie, maar toe die ergste brrr… verby
was, was dit baie leersaam.  Nooit geweet my linkerlong is kleiner as my regterlong nie.  Natuurlik om vir
jou hart plek te maak.  
 

Sjoe, kyk net hoe verander die long wanneer lug ingeblaas word !  


Ek moet ’n foto neem !  My maats gaan dit nie glo nie !  Dankie meneer Johan Bester dat jy die klas so interessant gemaak
het.  Wonder wat is volgende ?
 


KUNS !!!
Vorm, lyn, tekstuur, kleur, skadu, figuurstudies.  Nadat ons dié begrippe baasgeraak het, was dit tyd om alles bymekaar te 
bring.  Die Gr.8-leerlinge moes elk ’n figuur teken.  ’n Geskikte agtergrond moes aan die skepping gegee word en 
verskillende tegnieke moes gebruik word om die opdrag te voltooi.  Nou is dit in Juffrou Anya Mareé se hande of ons
die opdrag geslaag het !
 

2019 - LEWENSWETENSKAP
In die Lewenswetenskapklas het die Gr. 12’s die oog gedissekteer.  Onder meneer Johan Bester 
se geoefende oog is daar na die bou en ander belangrike feite rondom ’n mens se oog gekyk.  
O ja, moenie dink dis ’n kompliment as iemand sê jy is ’n regte volstruis nie - ’n volstruis se oog
is groter as sy brein !  
Trek maar ook die boeke nader - ’n mens lees gewoonlik 25% stadiger op ’n skerm as op papier.
 
     

 


GRAAD 8 - KUNS
Die Graad 8-leerlinge in Juffrou Anya Maree se klas het dit goed gedink om ’n paar uitrustings te ontwerp vir die naderende matriekafskeid.  
Errol Arendz, Simon Rademan en Marianne Fassler moet tog seker een  of andertyd "die skêr neerlê “ … 


Tweede kwartaal - Eksamentyd !!!
Tydens die afgelope eksamen moes die Graad 12 en Graad 11 leerlinge hardwerk aan hulle  praktiese punte.  Heelwat dinkwerk moes ingesit word in die aanbieding van hulle onderskeie  disse.  Soos julle kan sien was dit ’n groot sukses en wat ’n verskeidenheid was dit nie !

 

 


Graad 12 leerders van Mnr. Skiet Geldenhuys besoek 
Wesgrow se verpakkingsaanleg.


Daarna moes die ware Jakob op die proef gestel word … 


Die tweede kwartaal het weggespring teen die spoed van lig, maar ’n gebrek aan kreatiwiteit in die 
Verbruikerstudieklas bestaan glad nie !!!  Onder Juffrou Liza Engelbrecht se bekwame leiding het die groep
leerlinge met die interessantste skeppings voorendag gekom


WISKUNDE OLIMPIADE
n Groep leerlinge onder die wakende oog van Mev. Nanette Christ  besig om hul bes te gee … Sterkte, ons hoop dit gaan sommer baie goed !
 
 
 
 
 

 


Graad 11 leerlinge (Landbou Bestuurspraktyke)  besoek saam met Aartappel- sertifiseringsdienste aartappelplase om landerye te inspekteer en meer oor  siektes in die bedryf te leer.


GRAAD 2’S DOEN KUNS !!!
So tussen die akademiese werk deur is daar darem ook tyd om kreatief te verkeer.  In die Graad 2 klasse  van Juffrou Bonita Avenant en Juffrou Anna-Lize Coetzer, is leerlinge aangemoedig om dieper na ons onderwater skatkis te kyk … Tydens pouses kon almal hulle handewerk besigtig.